Tuesday, March 07, 2006

Jou kleintoonjie en God

Het jy al jou kleintoontjie gestamp? Dis ‘n vreeslike klomp pyn vir net loop. Vir my voel dit altyd of ek ten minste ‘n 10 meter aanloop met hoë spoed moes gehad het om dieselfde hoeveelheid pyn te ervaar. Maar ek het nie gehardloop nie, net geloop. Daar is baie krag in die alledaagse. Tog streef ons daarna om die alledaagse te ontvlug. Wie wil nou alledaags wees? Ons streef na die unieke gebeurtenis. Ons leef van hoogtepunt tot hoogtepunt. Iets wat die roetine van die alledaagse verbreek. In my geval is dit gewoonlik die uitsien na ‘n naweek. Die week word omgewens, sodat dit tog net kan naweek word. Die hoogtepunte kan bv. ‘n vakansie wees. Dalk ‘n fliek. Miskien ‘n uiteet. Iets lekkers om te doen.

Selfs in beplanning word daar gekyk na doelwitte en doelstellings. Waarheen is jy oppad? Wat is die einddoel? Wat is daar wat bereik moet word? As Christen is dit gewoonlik, wat is dit wat God wil doen? Waarheen is Hy met my oppad? Wat is Sy plan vir my lewe? Die tussen-in stukke is slegs die springplank vir wat oppad is.

Ons siening rondom mense is dieselfde. Mense het waarde as hulle mooi of mooi gebou is, as hulle geld het, as hulle slim is, as hulle deel is van ‘n gesiene familie, as hulle ‘n besonderse prestasie behaal het of ‘n gesiene beroep het. Maar wie kyk op na die gemiddelde mens op straat? Wie bewonder hulle? Is God binne-in hulle ook? Wat van lelike mense? Gestremdes?

My punt waarby ek wil uitkom is die volgende: God is orals. Die gordyn het geskeur. Ons mis Hom wel in die alledaagse. In die werk. In die roetine. Ons dink altyd God is oppad, soos ons, iewers heen. Ons mis Hom tussen die hoogtepunte. Ons mis Hom omdat ons heeltyd wil weet wat Hy beplan. Ons mis Hom in die gewone alledaagse mense rondom ons. Ons oë moet net oopgaan. Jesus was te gewoon vir die Jode en die Grieke. Hy het nie aan die verwagtings voldoen nie. ‘n God het sekere vereistes waaraan Hy moet voldoen. Jesus het nie. Hy het nie ‘n huis gehad nie, ‘n suksesvolle beroep nie, dit wil nie voorkom asof Hy besonders mooi was nie. Sy familie was nie hooggeplaas nie.

Sy stories is alledaags. Hy die koninkryk gesien in ‘n mosterdsaadjie, ‘n verlore skaap, lelies, voëls, herders en muntstukke wat wegraak. Die gewone alledaagse dinge.

So volgende keer as jy jou kleintoontjie stamp, dink aan die geweldige krag wat daar in die alledaagse is en kyk bietjie rond of jy nie God sien nie. Miskien, net dalk, ontdek jy Hom waar Hy nog altyd is.

No comments: