Tuesday, January 24, 2006

Die pad tot hier

Gebore in 1969. Baie rondgetrek as kind. 12 skole. Ouers is ongelooflik. My pa het die vermoë om met mense vriende te maak en hulle oombliklik op hulle gemak te laat voel. Hy is handig en baie lief vir tuinmaak. My ma is ‘n no-nonsence persoon, vergewe maklik en hou van sepies. Sy het die vermoë om mense lief te hê, al is dit moeilik. Hulle vul mekaar goed aan.
Oudste van 3 kinders. Twee sussies. Oudste kan enige iets doen as sy haar “mind” opgemaak het. Jongste is musikaal. Albei is sportief.

Het in ‘n Christelike huis grootgeword. NG Kerk. In st.8 tot bekering gekom. In matriek het ek na die AGS in George begin gaan. Uitgevind hulle is darem nie rêrig ‘n sekte nie. Wonderlike gemeente. Basies het ek by hulle uitgevind, dat die Here regtig is. Dat Hy “actually” met my kan praat. Nie net deur die dominee nie. Omdat hulle so ‘n klein gemeente was, was hulle soos ‘n hegte gesin.

Na matriek het ek by die PUK in Potchefstroom kom swot. Terug in die NG kerk. Die studente se belewing van God was lewendig en het verskeie sending-aksies gehad. Jy kon jou geloof uitleef. Ek was na 3 maande ‘n diaken en na nog 3 maande ‘n ouderling. Het al wat ‘n aksie is, bygewoon. Veral Gadium wat uitgereik het na die weermag. In my 2de jaar het ons na Hillbrow begin gaan. Daar die mense van MES(Middestad Evangelisasie Sending) ontmoet en ons het ‘n MES kamp gehou oor ‘n Paasnaweek. Dit was ‘n draaipunt in my lewe. God as Vader het ons kom besoek, en 120 studente was nooit weer dieselfde nie. Ek het gesien hoe God elke persoon ken en hoe naby Hy aan ons is. Hoe lief Hy my het. Dit was ‘n groot stoeigeveg, want ek wou dit nie glo nie, maar Hy het gewen. 11 MES kampe later moes ek!!!!

In hierdie tyd het ek my beste vriende leer ken. Ongelukkig het ek my sosiale lewe heeltemal te veel geniet. So ek moes opskop en is weermag toe in 1990. Die jaar daarna het ek gewerk en einde 1991 is ek getroud met ‘n wonderlike vrou. Sy is ‘n maatskaplike werker en beslis die persoon wat my die beste ken en aanvul. Skerp brein. Kan amper alles doen en is lief vir tuinmaak.

Vanaf 1990 het ek stadig, maar seker “gebackslide”. Ek het vals gevoel. Ek kon Jesus dien tussen mense wat Christene is, maar alleen tussen nie-christene het ek Hom dikwels verraai. Ek kon myself nie vereenselwig met die liedjies wat ons in die kerk sing nie, omdat ek geweet het hoe ek binne-in lyk. My arme vrou het ‘n man gekry wat onwillig was om kerk toe te gaan. Tog was daar beter tye, waar ons ‘n nuwe gemeente ontdek het, en vir ‘n lang ruk het dit goed gegaan. Ons het ingeskakel by ‘n sel. Kampe bygewoon. ‘n Baie oulike gemeente, met goeie woordverkondiging, heerlike sang en ‘n nabyheid tussen die christene. Merendeels was my rol in die gemeente om so half en half die agterhoede te dek. Help met stoele, klank, hulp wanneer daar hulp nodig is. Basies ‘n agtergrondrol. Later bietjie meer op die voorgrond deur selleiers te wees. Op ‘n stadium het ek gevoel die Here lei ons in ‘n rigting. Ek het met die pastoor gaan gesels en dit met hom gedeel. Daar het nie iets van gekom nie. Omtrend 6 maande later het een van die mense wat meer prominent in die gemeente was dieselfde gesê en onmiddelik het die gemeente in die rigting begin beweeg. Dit het my vrae laat vra oor die kerk. Oor kerkstruktuur. Wanneer is ‘n persoon se mening belangrik en wanneer nie? Dalk het ek net ‘n gewonde ego gehad.

In elkgeval het een van die leiers van die MES kampe na Potch getrek en het en en Anette na die pastoor gegaan en gesê dat ons vir eers uit die gemeente wil gaan. Ons het ons ge-“commit” tot ‘n jaar onder die persoon vir dissipelskap. Dit was ‘n wonderlike jaar, maar aan die einde van die jaar het my vrou moeggeword. Ons was sommigge aande tot laat besig om mensies te beraad en sy moes nog verslae gaan skryf vir die werk. Tot 2 uur in die oggend. So na ‘n jaar was sy moeg en het ons opgehou. Eers nie geweet waarheen om te gaan nie. Terug na die NG kerk. Daar het hulle my verkies tot diakenskap na 2 weke se bywoning. Ek was woedend. Hulle ken my nie eers nie. Hoe weet hulle ek sal goed wees in wat ek doen? Ek het “nee” gesê en is sommer uit. Bietjie rond geswerf en net voor 2000 het ons ‘n vernuwingsgemeente ontdek en ons het besluit om ons ten volle te “commit” tot die gemeente. So gemaak. Hier het ons wonderlike mense ontmoet. Dit was ‘n vinnig-groeiende gemeente. Ek dink die arme dominees het gesukkel om by te hou. Ons het weer die agterhoede takies verrig. Dit was goed, want teen hierdie tyd het ons 2 “kiddies” gehad, en met kinders wat woelig is, kan jy nie te veel andersins doen nie. Ongelukkig het dieselfde ding gebeur as by die vorige gemeente. As jy in ‘n gemeente is, en jy is “onsigbaar”, het jy nie ‘n groter nut nie. Jou mening is nie belangrik nie. En ek dink jy as mens, is nie noodwendig baie belangrik nie. Wat belangrik is, is dat jy funksie sal hê. Wat doen jy? Is jou mening so belangrik soos die dokter wat ‘n ouderling is? Kom ons sê, jy kry ‘n gemeente met wonderlike dinamiese mense wat die Here dien en vir Hom lief is, het ‘n introvert iets om te sê in so ‘n gemeente? Bestaan ‘n introvert in so ‘n gemeente? Verder het ek gevoel, dat mense wie se “track rekord” as christen baie kort was, in leiersposisies gekies is op grond van hulle sosiale rang. Bv. dokters, sielkundiges, proffies, regskenners. Ek en Anette het met die Here gestoei en het op ‘n dag besluit om nie meer Sondae kerk toe te gaan nie. Ons was op daardie stadium selherders. Die gemeente het ons 17 maande later gekontak en gevra of ons nog deel van die gemeente is. 17 maande? Dis al wat ek daaroor kan sê. So dit is my kerkagtergrond bo-langs. Nie te wonderlik nie, is dit?

Nou is ons 'n huisgesin van 5. Pa, Ma, 2 meisiekinders (8 jaar en 6 jaar) en 'n seun(2 jaar). En baie goeie vriende. Klink vir my na 'n wonderlike plek om te wees.

(Kyk uit vir die pad tot hier II)

1 comment:

Anonymous said...

Hi ABMO, what a life - never stop finding the truth, live in abudance... Ashar